Margate 8:
Later daai week hou ons toe een aand ‘n inbly in die woonstel – dis wanneer ‘n sekere persoon al almal gebrand het in Margate en hy eers ‘n aand moet wag sodat dinge kan afkoel in die dorp. Rista se boyfriend en sy vriende word toe deur ons nadergetrek vir drinking games – perderesies om meer presies te wees. Dit werk so: daar is tot 4 perde (die vier aces in die pak) wat kan deelneem en dan geborg deur toeskouers aangemoedig word. Die lengte van die resies word bepaal deur ‘n aantal kaarte te pak van 1 tot 10. Nou word die oorblywende kaarte in die pak omgedraai en die “suit”van die kaart bepaal watter perd skuif vorentoe een stap. ‘n 2 van klawers laat bv die ace van klawers een tree nader beweeg aan die eindpunt. Die laaste perd se toeskouers word dan gepenaliseer (of beloon aan die begin van die game) met drank. Een van Rista se boyfriend se pelle bring toe ‘n splinternuwe pak kaarte te voorskyn, blykbaar deur sy duitse ouma uit duitsland as ‘n geskenk aan hom gegee en hy vra dat ons tog baie versigtig met hulle werk en weg hou van vog of enige iets anders af. Plegtig belowe ons. Nou moet ek verduidelik van die strafdop – heerlike gemengde ingelegde vrugte total gebalanseer deur grenadella koeldrank met vodka by. Aanvanklik in perfekte balans maar dan later in die resies keurig vermeng met watookal nog oor is in die woonstel en besliste preferensie vir sterk drank. Waar ons dus die aand afgeskop het met vrugte 30%, koeldrank 50% en vodka 20% het buite invloed dit gou verander na vrugte 5%, koeldrank 5% en vodka 90%. Nodeloos om te se toe raak die perderesies groot. Met ‘n kundige span aan die moters se kant, ek en rien wat die ander span besig hou met trivia soos die lengte van die volgende resies, meng van die vrugtepons, aanvat oor hulle perde verloor ens., skommel Jannes nie die kaarte nie maar berei hulle individueel voor onder die tafel buite sig op so ‘n manier dat die ander span (baie goed onder die invloed van pons en verskriklik aandagafleibaar op daai stadium met kotssessies) nie agterkom dat die resies selfs meer “skeef”is as ‘n wapentransaksie tenderproses nie. Na ‘n verskriklike klomp kere wat die ander span verloor en dan moet drink, kom rien met die voorstel dat hulle verloor oor hulle nie “jockeys”op hulle perde het nie. Dit word positief ontvang as ‘n motivering vir hulle perde. So het ons perde dan goed soos dooie motte en kakkerlakke op met die volgende resies terwyl die man wat aan die begin van die aand vir ons mooi gevra het om sy ouma se kaarte op te pas, ‘n groot peer uit die vrugtepons as “jockey”het – soveel vir mooi oppas. Die hele speletjie het geeindig met Rista se boyfriend en sy vriende wat orals opgooi en/of uitgepass het. Jare later as grootmens by ‘n deftige funksie stap ‘n gesiene raadslid van ‘n komitee na my toe na die tyd, kyk my stip aan en se toe “jy en jou vriende het my alkoholvergiftiging gegee in margate met perderesies” Wat kan ‘n mens se? As jy met die groot duiwe wil vlieg moet jy groot pitte kan eet.